Hooglied en die seksuele

Die boodskap van Hooglied gaan primêr oor die vreugde en vervulling wat daar in die huwelik is, spesifiek ook in die seksuele. Hierdie positiewe siening van die seksuele veronderstel ‘n positiewe siening van die mens se liggaam en funksies. Eers gaan ons bespreek hoe die liggaam goed is. Daarna gaan ons kyk hoe die seksuele goed is. Laastens gaan ons kyk hoe die seksuele ons aan Jesus moet laat dink.

Die liggaam is goed

Ons kultuur het bagasie in die geskiedenis wat maak dat ons dink die liggaam is nie goed nie. In die geskiedenis is dit duidelik dat die Grieke, vanweë hul filosofie, gedink het die liggaam is boos, maar dat die mens se rede (verstand) goed is. Ons noem dit dualisme. Volgens dualisme is die verstand en geestelike dinge goed, maar fisiese dinge, soos ons liggame en liggaamlike funksies is sleg en selfs iets om van ontslae te raak. Die gevolg is dat hulle nie agting vir hulle liggame gehad het nie. Dit het dan na twee uiterstes toe gelei. Die een uiterste is om nie om te gee vir jou liggaam nie en daarmee te doen net wat jy wil. Jy kan soveel rondslaap, drink en eet soos jy wil. Volg elke begeerte na en moenie omgee oor jou liggaam nie, want dit is in elk geval niks werd nie. Die ander uiterste is om jou liggaam te pynig, soos om min te eet, jouself te slaan, of glad nie seksuele omgang te beoefen nie. Volgens hierdie siening is die liggaam en sy funksies sleg, en moet mens probeer om weg te kom van die liggaam af om meer “geestelik” en goed te word. Die Griekse filosofie het dus daartoe gelei dat mense ‘n lae dunk van die liggaam het en gevolglik op bepaalde maniere met hul liggame optree.

Die Griekse filosofie het die vroeë Christendom beïnvloed, en sodoende vir ons. Sommige van die vroeë kerkvaders het die Griekse filosowe bestudeer en dit het hul teologie beïnvloed dat hulle ‘n lae siening van die liggaam het. Hierdie invloed van die Grieke is vandag nog in sommige kringe sigbaar. Ons kan dit veral by ons sien in die geval dat party mense dink dat ‘n mens God net kan dien as jy ‘n predikant of ‘n sendeling is. Ander werke, soos om ‘n rekenmeester of ‘n loodgieter te wees, is ‘n wêreldse werk en God gee nie eintlik daaroor om nie, want dit is nie so “geestelik” nie. Die lae siening van die liggaam kom ook navore dat baie min mense aan die seksuele dink as iets waarmee mens God in die huwelik kan verheerlik, as iets waaroor God trots is. Vir sommige mense is die seksuele ‘n slegte ding waaroor mens moet skaam wees en dit so min as moontlik moet doen. Hierdie siening dat die liggaam of die “wêreldse” goed minderwaardig is, is ook by ons sigbaar en ons moet leer om reg daaroor te dink.

Sommige Christene het ook ‘n oorreaksie as hulle na die wêreld kyk. Ons wêreld is verkeerdelik behep met die seksuele. Ons kultuur het dit behoorlik ‘n afgod gemaak. Mens sien en hoor net hoe mense seksueel losbandig leef. Seksuele losbandigheid word eintlik goed gepraat. Dit is in ons kultuur eintlik ‘n skande om ‘n maagd te wees totdat ‘n mens getroud is. Bykomend is die meeste data wat op die internet gelaai is pornografies. Ons kultuur het ‘n mooi gawe van God gevat en dit verskriklik misbruik. Die gevaar is dat sommige Christene dan die baba met die badwater uitgooi. Hulle het so ‘n hewige reaksie teen die boosheid, hoe die wêreld die seksuele hanteer, dat hulle nie in ag neem wat die goeie is wat God daarmee bedoel het nie. Ons moet nie dit doen nie. Ons moet reg oor die liggaam en die seksuele dink.

Ons leer om reg oor die liggaam te dink deur te kyk na dit wat God van die liggaam dink. God dink die liggaam, sowel as die liggaamlike funksies, is goed. God dink soveel van die menslike liggaam, dat Jesus self ook ‘n menslike natuur, en daarmee saam ‘n menslike liggaam, aangeneem het. Jesus het waarlik as ten volle mens en ten volle God op die aarde geleef en gesterf. Jesus het ook as ‘n ware mens, en waarlik God, opgestaan uit die dood en so opgevaar na die hemel toe. Vandag sit Jesus aan die regterhand van God met sy menslike liggaam en gaan sy menslike liggaam nou tot in ewigheid hê. As die menslike liggaam vir God ‘n slegte en minderwaardige ding was, sou Jesus dit nie vir ewig hê nie. God sou ook nie ons menslike liggame red nie. Die rede hoekom Jesus ‘n menslike liggaam aangeneem het, is sodat hy ons, insluitend ons liggame, nie net ons siele nie, kon red. Daarom gaan ons eendag met ons vleeslike liggame weer opstaan uit die dood en vir ewig saam met God in ons menslike liggame leef (vgl. 1 Kor 15). Die menslike liggaam is dus baie kosbaar vir God en moet ook vir ons wees.

Dat die liggaam vir God kosbaar is, het implikasies. Ons liggame is vir God so kosbaar dat Hy dit met Jesus se bloed gekoop het. Ons liggame behoort dus nou aan God (1 Kor 6:19). Ons kan gevolglik nie net daarmee doen wat ons wil en dit beskadig nie. Met ander woorde, ons kan nie net gaan rondslaap en drink en vreet soos ons wil nie. Maar dit beteken ook dat die liggaam en wat ons daarmee doen nie sleg is nie. God wil hê ons moet die seksuele bedryf (in die huwelik) en Hy wil hê dat ons wyn en ander drank geniet (sonder om dronk te word) en Hy wil hê dat ons lekker kos moet eet en dit geniet (sonder om onsself te ooreet) (vgl. 1 Tim 4:3-5; 1 Kor 7:4-5; 1 Kor 10:31). Aangesien die liggaam vir God kosbaar is, moet ons God daarmee verheerlik. Ons verheerlik God met ons liggame juis deur die seksuele te geniet, saam met drank en kos, maar binne die perke wat God stel. 

Die seksuele is goed

Hier bo het ons gesien dat die liggaam, insluitend die seksuele, vir God goed is. In Hooglied sien ‘n mens baie duidelik dat die liggaam, insluitend die seksuele, vir God baie goed is. Die hoof boodskap van Hooglied is wat ‘n groot vreugde die huwelik, en veral die seksuele, is. Die doel van hierdie boodskap in Hooglied is om op die ou end vir ons te wys hoe Jesus en die kerk oor mekaar voel. Ons gaan hier onder eers die seksuele uit ‘n Bybelse perspektief bespreek en daarna, hoe die seksuele ons na Jesus lei. Ons gaan vyf aspekte van die seksuele bespreek, naamlik dat dit net in die huwelik hoort, dat dit mens help teen versoekings, dat mens daardeur vir mekaar liefde wys, dat mens veronderstel is om dit te geniet, en dat die Here kinders wil hê.

Die seksuele hoort binne die huwelik

Die Bybel leer dat die seksuele net bedoel is vir man en vrou wat getroud is. Seksuele omgang buite die huwelik voordat ‘n mens trou word hoerery in die Bybel genoem. Paulus sê dat mens eerder moet trou en daarbinne seksuele omgang hê as om te hoereer (1 Kor 7:2). Seksuele omgang buite die huwelik word egbreek in die Bybel genoem. Die skrywer van Hebreërs (13:4) waarsku teen seksuele omgang buite die huwelik deur te skryf dat God se oordeel oor “hoereerders en egbrekers” kom. Volgens die Bybel behoort die seksuele dan binne die huwelik. Mens mag dus geen seksuele omgang buite die huwelik hê nie, selfs ook nie al is mens in ‘n ernstige verhouding met net een persoon nie. God wil hê dat die seksuele in die huwelik hoort (die rede hiervoor sal later duidelik wees wanneer ons sien hoe die seksuele na Jesus wys).

Die seksuele beskerm teen versoekings

Die Bybel leer dat die seksuele van versoekings bewaar. Volgens Paulus moet man en vrou nie mekaar weier om seksuele omgang te hê nie. Hulle moet dus so gereeld seksuele omgang hê soos hulle wil. Die vrou mag nie die man weier as hy dit begeer nie en die man mag ook nie die vrou weier as sy dit begeer nie (1 Kor 7:2-5). Die Here het dus die seksuele binne die huwelik gegee om mekaar se begeertes te bevredig. Sodoende kom mens nie so maklik in die versoeking om buite die huwelik seksuele omgang of bevrediging te soek nie.

Hierdie is ook van toepassing op mense buite die huwelik wat sukkel met seksuele versoekings. Dit leer ‘n mens dat dit belangrik is om te trou om seksueel rein te bly. As iemand sukkel met seksuele versoekings, is Paulus se raad om eerder te trou of ernstig te begin moeite doen om te kan trou, eerder as om net te sit in jou versoekings (1 Kor 7:2). Wend ‘n ernstige poging aan om jouself voor te berei dat jy gereed is om te kan trou, om ‘n goeie man of ‘n goeie vrou te wees vir jou huweliksmaat. Soek ernstiger vir ‘n meisie of ‘n kêrel wat ‘n goeie man of vrou kan wees (moenie net rondspeel nie). As mens reeds ‘n meisie of ‘n kêrel het, moet mens nie lank sloer om agter te kom of mens kan trou nie, probeer dit eerder vinniger uitwerk sodat mens kan trou en nie meer so hoef te sukkel nie.

Die seksuele wys liefde

Die Bybel leer dat die seksuele bedoel is om vir mekaar liefde te wys. Die seksuele wys liefde ten diepste deur te wys dat die man se liggaam nie aan homself behoort nie, maar nou aan sy vrou; asook die vrou se liggaam behoort nie meer aan haarself nie, maar nou aan haar man (1 Kor 7:3-4). Die seksuele is ‘n verklaring dat man en vrou aan mekaar behoort. Hulle deel alles. Hulle wil nie iets weghou nie, hulle wil alles van hulself vir die ander een gee. Wat die seksuele baie spesifiek van liefde wys is dat mens jou liggaam vir jou huweliksmaat gee om hom of haar te plesier. Mens stel dus alles van jouself in diens tot die ander persoon se vreugde. Dit is wat liefde doen – mens soek die ander persoon se vreugde – en dit is waarvoor die seksuele veronderstel is om gebruik te word.

Die seksuele is bedoel om geniet te word

Die Bybel leer dat die seksuele bedoel is om geniet te word. Spreuke 5:18-19 sê: Mag jou fontein geseënd wees, en verheug jou oor die vrou van jou jeug, die lieflike wildsbokkie en aanvallige steenbokkie; laat haar boesem [borste] jou altyd vermaak, mag jy in haar liefde gedurigdeur bedwelmd wees.” Dit is waaroor groot gedeeltes van Hooglied gaan, om te wys hoe man en vrou mekaar seksueel geniet. Hieroor gaan ek nie uitbrei nie, dit is vir ‘n man en vrou om self mekaar te ontdek en te leer wat is lekker en wat nie.

Die seksuele is om kinders te kry

Die Bybel leer ook dat die Here graag godvresende kinders wil hê. In Maleagi het ons geleer dat een van die doele van die huwelik is om kinders te kry en hulle groot te maak om die Here te ken en Hom te dien (Mal 2:15). Natuurlik gebeur dit deur die seksuele. Die Bybel sê nie hoeveel nie, maar leer dat kinders ‘n geskenk is van die Here. As mens baie kan kry, kry baie. As mens nie baie kan kry nie, weens gesondheid of ‘n ander goeie rede, hoef mens nie baie te hê nie. As mens vir een of ander mediese rede nie kan kinders kry nie, beteken dit nie dat jy sondig of deur die Here verwerp word nie. Dink aan aanneming, of mens hoef dan ook nie kinders te hê nie.

Die seksuele gaan oor Jesus

Een van die belangrikste boodskappe in Hooglied is dat die man en vrou net aan mekaar behoort. Dit is moontlik die grootste tema in die boek. Hierdie boodskap dra iets meer oor ons verhouding met die Here, en bied ook die rede waarom ons nie seksueel losbandig moet wees nie. Eers sal die tema in Hooglied kortliks bespreek word. Daarna sal dit verduidelik word hoe dit oor Jesus en die kerk gaan. Laastens sal die implikasies vir ons seksuele reinheid aangedui word.

Die tema in Hooglied

In Hooglied kom die tema dat die bruidegom en die bruid uitsluitlik net aan mekaar behoort baie sterk na vore. Mens lees herhaaldelik “my beminde is myne, en ek is syne” ens. (Hgl. 2:16). Mens lees ook van die vrou se “tuin” waaroor Salomo dan sê (Hgl 5:1): “Ek het in my tuin gekom, my susterbruid, ek het my mirre met my balsem gepluk, ek het geëet van my heuningkoek met my heuning, ek het gedrink my wyn met my melk.” Met ander woorde alles van die vrou is Salomo s’n en alles van Salomo is die vrou s’n. Verder word daar baie klem deur Hooglied gelê op die maagdelikheid van Salomo se bruid. Byvoorbeeld, in Hooglied 8:10 word die bruid beskryf as ‘n “muur” en nie ‘n “deur” nie. Sy word ook beskryf as ‘n “geslote tuin” en “verseëlde fontein” (Hgl. 4:12). Dit beteken dat sy haarself net vir een man gaan gee en dat sy dan net aan hom gaan behoort. Die tema dat die bruidegom en die bruid uitsluitlik aan mekaar behoort kom dus herhaaldelik na vore in Hooglied en is baie belangrik.

Die tema gaan oor Jesus

Die huwelik tussen man en vrou moet iets van Jesus en die kerk leer. Die huwelik is bedoel om vir ons ‘n tasbare beeld te skep wat heenwys na die wyse waarop Jesus en die kerk met mekaar omgaan (Ef. 5:22-33). Die tema in Hooglied, dat die bruidegom en die bruid uitsluitlik net aan mekaar behoort, verkondig iets van Jesus en die kerk se verhouding. Dit beteken dat Jesus en die kerk net aan mekaar behoort. Jesus span alles van Homself in om ons vreugde te bewerk. Hy gee alles van Homself vir ons. Hy het dit ten diepste aan die kruis gewys. Daar het Hy gewys dat Hy niks sal terughou om ons te red en vir ons vreugde te bewerk nie. Die bruid is ook veronderstel om haarself net aan Jesus toe te wy. Ons moet alles van onsself inspan om alleen vir Jesus gelukkig te maak en vir Hom vreugde te bring. Die tema in Hooglied herinner ons aan Jesus se absolute toewyding aan ons en spoor ons aan om nog meer alles van onsself te gee om Jesus te behaag.

Die tema het implikasies vir ons seksuele reinheid

Die tema van seksuele eksklusiwiteit het implikasies vir ons seksuele lewe. Soos ons in die boonste paragraaf sien, verkondig die seksuele eksklusiwiteit tussen man en vrou hier op aarde die eksklusiwiteit tussen Jesus en die kerk. As ons dan seksueel losbandig rondgaan, sê ons daardeur dat Jesus eintlik nie toegewy is aan die sy kerk nie en dat die kerk nie aan Hom toegewy hoef te wees nie. Met ander woorde, ons seksuele losbandigheid verkondig ‘n leuen oor Jesus en die kerk se verhouding. Hooglied spoor ons aan om met ons seksuele dade eerder te verkondig hoe toegewy Jesus en die kerk aan mekaar is.

Slot

Hieruit is dit duidelik dat die Bybel, veral Hooglied, ‘n positiewe siening van die seksuele het. Christene is bedoel om dit te geniet en bly te wees daaroor en dit gereeld te gebruik tot eer van God. Buiten dat dit ‘n baie lekker geskenk van die Here aan man en vrou is, lei dit ons ook na Jesus Christus toe en spoor ons aan tot nog vuriger liefde vir Hom en herinner dit ons aan sy liefde vir ons.

Lewer kommentaar

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑